Opvoedkundige Sielkundige

Spraakterapeut



Om kinders te help om hul volle potensiaal te bereik, is my voorreg en passie in die lewe.
Die laaste vier jaar het ek die voorreg om my passie ook by Laerskool Mayville uit te leef.
My kliëntjies sluit in:
- Kinders wat spraakprobleme ondervind. Dit behels enige klanke wat nie uitgespreek kan word nie, een klank wat met ‘n ander klank vervang word, klanke wat verkeerd uitgespreek word en onvlothede (hakkel) wat mag voorkom.
- Kinders met taalagterstande. Sinne wat korter en eenvoudiger is as wat vir die kind se ouderdom verwag word, foutiewe woordorde en woorde wat uit sinne weggelaat word.
- Kinders met ouditiewe prosesseringsprobleme. Dit sluit in probleme om rympies en liedjies te kan onthou, probleme om opdragte te onthou en uit te voer, probleme om met aandag na ‘n storie te luister, om die storie terug te vertel en om vrae in verband met die storie terug te antwoord, sukkel om klanke te kan identifiseer en te skryf.
- Kinders wat lees- en spelling probleme ondervind.
Indien u as ouer bekommerd is oor u kind se spraak-, taal of ouditiewe prosesseringsontwikkeling, kan u my direk kontak. Indien die onderwysers bekommerd is oorbogenoemde, sal hul dit met u bespreek en voorstel dat u ‘n spraakterapeut kontak.
Na ‘n evaluasie word weeklikse/ twee-weeklikse terapie sessies by die skool aangebied.
Saam met die onderwysers werk ons as ‘n span om u kind te help om na die beste van sy/haar vermoë te presteer.
Adri Jasnsen van Vuuren
Spraak-, taalterapeut
083 454 7231
Remediërende Onderrig



Remediërende Onderrig is hulp aan leerders wat bepaalde leergeremdhede ondervind. Dit is gespesialiseerde onderrig wat daarop gemik is om leerlinge met normale intellektuele vermoëns te help met die oorkoming van probleme in bepaalde vakke of in spesifieke leerareas.
Dit is ‘n proses van identifisering en herstel van die oorsake van spesifieke leergeremdhede by leerlinge sodat die betrokke leerling weer op standaard kan funksioneer. Hierdie proses is egter ‘n langdurige proses sodat dit volhoubaar kan wees. Oefeninge om Visuele- en Ouditiewe diskriminasie en geheue, sowel as om spiertonus en lateraliteit te verbeter, moet in meeste gevalle gedoen word.
Hierdie leergeremdhede word in die klaskamer deur die onderwyser/es waargeneem en aan die ouer gekommunikeer. Terselfdertyd word die leerder se leergeremdheid aan die betrokke onderwyser/es wat die remidiëring aanbied, deurgegee. Hoe gouer die leergeremdheid geïdentifiseer word, hoe makliker is dit vir die onderwyser/es en die leerder om die spesifieke leergeremdheid te oorbrug. Die aanvaarding van die ouer, dat die leerder ‘n bepaalde leergeremdheid ondervind, is van die uiterste belang en is die eerste stap in die herstel van die betrokke leergeremdheid.
Sodra die leerder se ouers toestemming gee dat die leerder remidiërende hulp mag ontvang, sal die leerder die Remediërende onderwyser/es ontmoet. Hierdie onderwyserer/es sal individuele voorbereiding doen wat die leerder sal begelei tot die herstel van die leergeremdheid. Leerders met leergeremdheid in ‘n bepaalde vakdissipline, ontvang individuele aandag van die Remediërende onderwyser/es. Hierdie een tot een interaksie bied die leerder die geleentheid om sy/haar leergeremdheid te oorbrug.
Hierdie hulp is ‘n diens wat die skool bied en word aangebied deur me E.M. de Vries vir Gr1 Gr3 leerders.
Arbeidsterapeut



Ek het gekwalifiseer in 2007 aan die Universiteit van Pretoria. Ek het my privaat praktyk in 2010 begin en na 6 jaar besluit om my Meesters graad aan te pak by Wits, is tans nog besig daarmee. My dienste by Laerskool Mayville sluit een-tot-een evaluasie en intervensie afsprake met kinders wat verwys word deur hul onderwysers in. Ouers doen soms self ook navraag sonder verwysing. Dis gewoonlik die Graad RRre tot Graad 3s. Gevalle sluit in:
* Sensoriese integrasie
* Ontwikkelingsagterstande
* ADHD en konsentrasie probleme
* Leer probleme
* Skoolgereedheid
* Spesifieke diagnoses soos Serebrale Gestremdheid en brein abnormaliteite het ook al daar voorgekom.
Studie metodes met kinders van Graad 4 af is ook moontlik.
Intervensie is in die vorm van speel en aktiwiteite om motoriese vaardighede (grof en fyn motories), sensoriese integrasie, visuele persepsie en ook kognisie aan te spreek.
Funksionaliteit in skoolwerk, persoonlike versorging, speel, slaap, verhoudings en vryetydsbesteding is die uiteindelike doel en ek bemagtig graag kinders en hulle ouers om dit te bereik na afloop van Arbeidsterapie intervensie.
Ruda Roux
Arbeidsterapeut
072 143 1082
Adres van praktyk Deborahstraat 936, Pta Tuine
Praktyk nommer: 0391328